Angs en Vrede loop langs mekaar

Op 23 Oktober 2021 het ek die geleentheid gehad om weerbaarheid, veerkragtigheid, omgee en liefde eerstehands te ervaar. Dit was tydens ‘n ontlontingsessie aan ‘n groep jong Voortrekkerkinders en ‘n klompie volwassenes wat ooggetuie was van ‘n grusame noodlottige aanval op ‘n jong vrou.

Ek het baie verhale van braafheid, vrede, geloof en onderlinge ondersteuning gehoor. En min verhale van paniek en angs, soos mens eerder sou verwag.

Ek het gehoor van kindertjies so jonk as 6 jaar wat, sonder om te skroom, bevele gehoorsaam het om plat te val en stil te lê, van dogtertjies wat op bevel van ‘n tannie na veiligheid gekruip het. Van ‘n dapper seun wat kopgehou en die polisie gebel het en ‘n ander jong man wat saam met een vn die volwassenes gaan kyk het of hulle die slagoffer  kon help.

Ek het gehoor hoe die grootmense elke kind wou beskerm, ten koste van hulle eie veiligheid. En hoe kinders mekaar getroos en ondersteun het. Ek het gehoor hoe grootmense mekaar erkenning gee vir elkeen se aandeel in die beveiliging van ons land se toekomstige leiers. Ek het, belangrikste van alles, gehoor hoe mense God se bewarende hand beleef het.

Ja, daar was trane oor wat gebeur het en kommer oor die pad vorentoe. Daar is verseker vrees maar daar is beslis nie wanhoop en ongeloof nie!

Aan die einde van die sessies was ek met dankbaarheid gevul vir ondersteuning deur hierdie selfde groep mense toe my kollega my geskok kom meedeel het dat my motor gesteel is. Ek was omring met omgee-mense en aanbiedings van hulp te midde van hul eie pyn en kommer.

Ek salueer elkeen van julle! My bede is dat ons weer eendag in vrede sonder grusaamhede en disrespek vir mekaar in hierdie mooi land van ons sal woon.

Gebroke Hart: Hoe om weer te Hoop

Ek is nou 24 lange maande lank sonder my geliefde, die een met wie ek kon baklei en die een wat my liefgehad het, net soos ek is. Sommer net so onverwags het hy doodgegaan. Net so onverwags het ‘n deel van my ook doodgegaan. Want hoe loop mens een oomblik nog langs mekaar, maak saam planne, lag saam, wonder saam oor die lewe, ons kinders en ons toekoms om net eensklaps die lewe alleen aan te durf?

Alles in my lewe het verander. Ek staan soggens alleen op. Ek maak vir myself koffie. Ek is die enigste een in die badkamer. Sy kant van die bed bly onaangeraak. Die eiers in die yskas word oud. Ek koop net ‘n klein blokkie kaas wat oud word. Hy was gek oor kaas. Hy het altyd ‘n groot blok gekoop en dit in week-pakkies verdeel. Nou is my maandpakkie so groot soos sy weekpakkie. Daar is geen ontbytreuke vanuit die kombuis nie. Ek ruim alleen die kombuis op. Ek maak alleen kos. En moet dit dan eet. Alleen. En in stilte…die groot geraasmaker!

Ek gryp dikwels rond in my herinneringe na die seer, maar vind dan met verwondering dat daar meer mooi in my lewe is as wat daar seer is. Want ek weet dat, so seker as wat die seisoene sal draai, en die veldblomme sal blom, ek ook in die hand van my Koning is.

Ek streef daarna om elke dag ten volle te leef (al kry ek dit nie altyd reg nie). Ek droom van ‘n knus nuwe blyplekkie (die huis is nou te groot) en ek sing Psalms van vreugde vir die byna 48 jaar wat ons saam was. En dan verander die stilte in lofsange en kry ek moed vir die toekoms. Alleen. En in stilte…vredevolle stilte.

Ek groet met ‘n aanhaling van Barbara Johnson:

“Pyn is onvermydelik, maar ongelukkigheid is opsioneel.

Mag jy wat hier lees en ook seer het, weer jou lag vind.