Op 23 Oktober 2021 het ek die geleentheid gehad om weerbaarheid, veerkragtigheid, omgee en liefde eerstehands te ervaar. Dit was tydens ‘n ontlontingsessie aan ‘n groep jong Voortrekkerkinders en ‘n klompie volwassenes wat ooggetuie was van ‘n grusame noodlottige aanval op ‘n jong vrou.
Ek het baie verhale van braafheid, vrede, geloof en onderlinge ondersteuning gehoor. En min verhale van paniek en angs, soos mens eerder sou verwag.
Ek het gehoor van kindertjies so jonk as 6 jaar wat, sonder om te skroom, bevele gehoorsaam het om plat te val en stil te lê, van dogtertjies wat op bevel van ‘n tannie na veiligheid gekruip het. Van ‘n dapper seun wat kopgehou en die polisie gebel het en ‘n ander jong man wat saam met een vn die volwassenes gaan kyk het of hulle die slagoffer kon help.
Ek het gehoor hoe die grootmense elke kind wou beskerm, ten koste van hulle eie veiligheid. En hoe kinders mekaar getroos en ondersteun het. Ek het gehoor hoe grootmense mekaar erkenning gee vir elkeen se aandeel in die beveiliging van ons land se toekomstige leiers. Ek het, belangrikste van alles, gehoor hoe mense God se bewarende hand beleef het.
Ja, daar was trane oor wat gebeur het en kommer oor die pad vorentoe. Daar is verseker vrees maar daar is beslis nie wanhoop en ongeloof nie!
Aan die einde van die sessies was ek met dankbaarheid gevul vir ondersteuning deur hierdie selfde groep mense toe my kollega my geskok kom meedeel het dat my motor gesteel is. Ek was omring met omgee-mense en aanbiedings van hulp te midde van hul eie pyn en kommer.
Ek salueer elkeen van julle! My bede is dat ons weer eendag in vrede sonder grusaamhede en disrespek vir mekaar in hierdie mooi land van ons sal woon.
Discover more from QualilifeCare -Centre for loss, grief and bereavement
Subscribe to get the latest posts sent to your email.