Angs en Vrede loop langs mekaar

Op 23 Oktober 2021 het ek die geleentheid gehad om weerbaarheid, veerkragtigheid, omgee en liefde eerstehands te ervaar. Dit was tydens ‘n ontlontingsessie aan ‘n groep jong Voortrekkerkinders en ‘n klompie volwassenes wat ooggetuie was van ‘n grusame noodlottige aanval op ‘n jong vrou.

Ek het baie verhale van braafheid, vrede, geloof en onderlinge ondersteuning gehoor. En min verhale van paniek en angs, soos mens eerder sou verwag.

Ek het gehoor van kindertjies so jonk as 6 jaar wat, sonder om te skroom, bevele gehoorsaam het om plat te val en stil te lê, van dogtertjies wat op bevel van ‘n tannie na veiligheid gekruip het. Van ‘n dapper seun wat kopgehou en die polisie gebel het en ‘n ander jong man wat saam met een vn die volwassenes gaan kyk het of hulle die slagoffer  kon help.

Ek het gehoor hoe die grootmense elke kind wou beskerm, ten koste van hulle eie veiligheid. En hoe kinders mekaar getroos en ondersteun het. Ek het gehoor hoe grootmense mekaar erkenning gee vir elkeen se aandeel in die beveiliging van ons land se toekomstige leiers. Ek het, belangrikste van alles, gehoor hoe mense God se bewarende hand beleef het.

Ja, daar was trane oor wat gebeur het en kommer oor die pad vorentoe. Daar is verseker vrees maar daar is beslis nie wanhoop en ongeloof nie!

Aan die einde van die sessies was ek met dankbaarheid gevul vir ondersteuning deur hierdie selfde groep mense toe my kollega my geskok kom meedeel het dat my motor gesteel is. Ek was omring met omgee-mense en aanbiedings van hulp te midde van hul eie pyn en kommer.

Ek salueer elkeen van julle! My bede is dat ons weer eendag in vrede sonder grusaamhede en disrespek vir mekaar in hierdie mooi land van ons sal woon.

Koebaai

Afskeid het vele gedaantes. Soms kom dit skielik en soms beplan ons dit. Dikwels kom dit op ons afgestorm en ander kere sien ons uit daarna. Maar selfs al sien ons uit daarna, is daar tog ‘n mate van weemoed wat soms verswelgend kan raak.

Daar is die vinnige “koebaai”. Dan is daar die kere waar daar geen koebaai is nie. Die tye wat mens WIL koebaai sê en die kere wanneer jy nie KAN nie.

Ek is nou op ‘n koebaai-reis. Ek dink dis my laaste keer weg van die huis in my huidige pos. Oor twee maande is dit alles verby – gedeeltelik my keuse – gedeeltelik omstandighede. Daar is min gemengde gevoelens – wel ‘n bietjie nostalgie. Geen geleenthede meer van nuwe plekke besoek en nuwe mense leer ken op werksonkoste nie. Maar soveel om na uit te sien, my passie te kan uitleef. Vervuld en met die wete dat ek die Here daardeur kan dien en my talente kan gebruik.

Prediker is reg. Daar is ‘n tyd vir alles. En my tyd om koebaai te sê het gekom.

Koebaai HPCA. Jy was vir my goed. Ek gaan, want ek moet. Mag die Here julle seen.

(Geskryf Julie 2016, gepubliseer Okt 2021 – Baie water het intussen in die see geloop)