Gebroke Hart: Hoe om weer te Hoop

Ek is nou 24 lange maande lank sonder my geliefde, die een met wie ek kon baklei en die een wat my liefgehad het, net soos ek is. Sommer net so onverwags het hy doodgegaan. Net so onverwags het ‘n deel van my ook doodgegaan. Want hoe loop mens een oomblik nog langs mekaar, maak saam planne, lag saam, wonder saam oor die lewe, ons kinders en ons toekoms om net eensklaps die lewe alleen aan te durf?

Alles in my lewe het verander. Ek staan soggens alleen op. Ek maak vir myself koffie. Ek is die enigste een in die badkamer. Sy kant van die bed bly onaangeraak. Die eiers in die yskas word oud. Ek koop net ‘n klein blokkie kaas wat oud word. Hy was gek oor kaas. Hy het altyd ‘n groot blok gekoop en dit in week-pakkies verdeel. Nou is my maandpakkie so groot soos sy weekpakkie. Daar is geen ontbytreuke vanuit die kombuis nie. Ek ruim alleen die kombuis op. Ek maak alleen kos. En moet dit dan eet. Alleen. En in stilte…die groot geraasmaker!

Ek gryp dikwels rond in my herinneringe na die seer, maar vind dan met verwondering dat daar meer mooi in my lewe is as wat daar seer is. Want ek weet dat, so seker as wat die seisoene sal draai, en die veldblomme sal blom, ek ook in die hand van my Koning is.

Ek streef daarna om elke dag ten volle te leef (al kry ek dit nie altyd reg nie). Ek droom van ‘n knus nuwe blyplekkie (die huis is nou te groot) en ek sing Psalms van vreugde vir die byna 48 jaar wat ons saam was. En dan verander die stilte in lofsange en kry ek moed vir die toekoms. Alleen. En in stilte…vredevolle stilte.

Ek groet met ‘n aanhaling van Barbara Johnson:

“Pyn is onvermydelik, maar ongelukkigheid is opsioneel.

Mag jy wat hier lees en ook seer het, weer jou lag vind.

Ek ontmoet ‘n Ou Vroutjie

My werk neem my soms op interessante paaie. Gister was so ‘n dag.

Ek laai ‘n vreemdeling, met goeie verwysings vanaf my kollega, op. Hy vat my op die kronkelpad oor die heuwels van Endlovini. Ons is op pad na ‘n gemeenskapsorganisasie wat hulp en sorg verskaf aan persone met ‘n lewensbedreigende siekte.

Terwyl ek ry, verkyk ek my aan die vreemde mooi van kleihuisies op heuwels. Ek kry die gevoel van vreedsaamheid. Ek sien laggende mense en ek kry vriendelike wuiwe van meeste voetgangers by wie ons verbyry. Ons vat ‘n stywe verspoelde grondpaadjie en my nou bekende metgesel maak die hek oop. Die hek is nie daar om skelms uit te hou nie, maar wel die beeste. Skreiend in kontras met die ontwikkelde en misdaadryke gebied waar ek bly.

Hier is ooglopend min hulpbronne, maar die hartlike manier waarop ek ontvang word is in skrille kontras met die armoede van die omgewing. Dit laat my wonder wat armoede werklik is. Wie is die arm mens hier? Dalk ek?

Skitterskoon vloere begroet my. Iewers vanuit die gebou kerm ‘n pasiënt en my voete loop vanself daarheen. Daar is min plek in die klein kamertjie. Die bed staan reg onder die gordynlose venster. Daar is lekker warm komberse op die bed. Dis ‘n ou vroutjie wat eintlik met haarself lê en gesels. Baie hard. Dalk is sy doof. Haar oë is al dof. Ek vat haar hand en sy draai na my toe. ‘n Glimlag wat my skaam maak, begroet my. Sy is bly om my te sien! Sy vryf my hand en praat met my in Zoeloe. Dis n goeie praat, al verstaan ek min. En toe praat sy Engels en vra MY  hoe dit gaan. So lei sy die gesprek weg van haar en fokus op my, die arm ene?! Toe ek groet wil sy my eers nie laat loop nie. Maar sy stuur my uit met ‘n seëngroet wat my vir lank bybly.

Toe begin ons werk in Endlovini.