Ek ontmoet ‘n Ou Vroutjie

My werk neem my soms op interessante paaie. Gister was so ‘n dag.

Ek laai ‘n vreemdeling, met goeie verwysings vanaf my kollega, op. Hy vat my op die kronkelpad oor die heuwels van Endlovini. Ons is op pad na ‘n gemeenskapsorganisasie wat hulp en sorg verskaf aan persone met ‘n lewensbedreigende siekte.

Terwyl ek ry, verkyk ek my aan die vreemde mooi van kleihuisies op heuwels. Ek kry die gevoel van vreedsaamheid. Ek sien laggende mense en ek kry vriendelike wuiwe van meeste voetgangers by wie ons verbyry. Ons vat ‘n stywe verspoelde grondpaadjie en my nou bekende metgesel maak die hek oop. Die hek is nie daar om skelms uit te hou nie, maar wel die beeste. Skreiend in kontras met die ontwikkelde en misdaadryke gebied waar ek bly.

Hier is ooglopend min hulpbronne, maar die hartlike manier waarop ek ontvang word is in skrille kontras met die armoede van die omgewing. Dit laat my wonder wat armoede werklik is. Wie is die arm mens hier? Dalk ek?

Skitterskoon vloere begroet my. Iewers vanuit die gebou kerm ‘n pasiënt en my voete loop vanself daarheen. Daar is min plek in die klein kamertjie. Die bed staan reg onder die gordynlose venster. Daar is lekker warm komberse op die bed. Dis ‘n ou vroutjie wat eintlik met haarself lê en gesels. Baie hard. Dalk is sy doof. Haar oë is al dof. Ek vat haar hand en sy draai na my toe. ‘n Glimlag wat my skaam maak, begroet my. Sy is bly om my te sien! Sy vryf my hand en praat met my in Zoeloe. Dis n goeie praat, al verstaan ek min. En toe praat sy Engels en vra MY  hoe dit gaan. So lei sy die gesprek weg van haar en fokus op my, die arm ene?! Toe ek groet wil sy my eers nie laat loop nie. Maar sy stuur my uit met ‘n seëngroet wat my vir lank bybly.

Toe begin ons werk in Endlovini.

As jou broer doodgaan

Bereavement unravels like a piece of cloth- the fabric of your life. Over time you will be able to reweave your piece of cloth, but the cloth will have a new pattern.Unknown

Dit was ‘n grou Wintersdag vol uitdagings. Daardie dag van 18 Junie 1992. Die dag toe my ouboet dood is. Die dag toe ek die oudste kind geword het. Die dag toe die drie sussies nie meer ‘n boetie en my ouers nie meer ‘n seun gehad het nie. Die dag toe sy vrou nie meer ‘n man gehad het nie. Maar die seerste van alles, toe sy kinders nie meer ‘n pa gehad het nie. Dit was die ergste dag in my lewe.

Ek onthou my pa se pyn en my ma se verslaentheid. Ek onthou ‘n sesjarige seuntjie wat sy handjies om sy ma en sy tannie se bene slaan om hulle te probeer troos. Ek onthou twee tieners wat eerder hulle portuurgroep se geselskap opgesoek het in ‘n poging om van die grootmense af weg te kom en ‘n mate van “normaliteit” in hulle lewens te kry. Ek onthou ook hoe die begrafnisondernemer ons met deernis hanteer het en ‘n klein seuntjie voorberei het op die kis met sy pappa se liggaam daarin. En ek onthou hoe my swaer vir my by die graf gevra het: “Jy kyk so na almal. Wie kyk na jou?”

Maar ek onthou ook hoe goed die gemeenskap vir ons was. Borde eetgoed (al voel mens nie om te eet nie) het die tafels volgestaan. Blomme, boodskappe en telefoonoproepe het ingestroom. Mense, bekend en onbekend, het ons ondersteun, tot lank na die begrafnis. Gebede was veral hoog bo aan die trooslys. En ons was getroos, al het dit ons lank geneem om my ouboet se dood in ons lewe te integreer. Ons was dankbaar vir emosies wat ons uiteindelik gehelp het in die verwerkingsproses, al was dit met tye erg pynlik. Ons het aangepas by ‘n lewe sonder ons boetie. Ons het met veerkragtigheid die veranderde omstandighede bemeester en terselfdertyd nuwe rolle, identiteite en verhoudings gevorm.

Ons het uiteindelik die stukkies van ons lap weer aanmekaar geweef, al was dit volgens ‘n nuwe patroon…