Bereavement unravels like a piece of cloth- the fabric of your life. Over time you will be able to reweave your piece of cloth, but the cloth will have a new pattern. – Unknown
Dit was ‘n grou Wintersdag vol uitdagings. Daardie dag van 18 Junie 1992. Die dag toe my ouboet dood is. Die dag toe ek die oudste kind geword het. Die dag toe die drie sussies nie meer ‘n boetie en my ouers nie meer ‘n seun gehad het nie. Die dag toe sy vrou nie meer ‘n man gehad het nie. Maar die seerste van alles, toe sy kinders nie meer ‘n pa gehad het nie. Dit was die ergste dag in my lewe.
Ek onthou my pa se pyn en my ma se verslaentheid. Ek onthou ‘n sesjarige seuntjie wat sy handjies om sy ma en sy tannie se bene slaan om hulle te probeer troos. Ek onthou twee tieners wat eerder hulle portuurgroep se geselskap opgesoek het in ‘n poging om van die grootmense af weg te kom en ‘n mate van “normaliteit” in hulle lewens te kry. Ek onthou ook hoe die begrafnisondernemer ons met deernis hanteer het en ‘n klein seuntjie voorberei het op die kis met sy pappa se liggaam daarin. En ek onthou hoe my swaer vir my by die graf gevra het: “Jy kyk so na almal. Wie kyk na jou?”
Maar ek onthou ook hoe goed die gemeenskap vir ons was. Borde eetgoed (al voel mens nie om te eet nie) het die tafels volgestaan. Blomme, boodskappe en telefoonoproepe het ingestroom. Mense, bekend en onbekend, het ons ondersteun, tot lank na die begrafnis. Gebede was veral hoog bo aan die trooslys. En ons was getroos, al het dit ons lank geneem om my ouboet se dood in ons lewe te integreer. Ons was dankbaar vir emosies wat ons uiteindelik gehelp het in die verwerkingsproses, al was dit met tye erg pynlik. Ons het aangepas by ‘n lewe sonder ons boetie. Ons het met veerkragtigheid die veranderde omstandighede bemeester en terselfdertyd nuwe rolle, identiteite en verhoudings gevorm.
Ons het uiteindelik die stukkies van ons lap weer aanmekaar geweef, al was dit volgens ‘n nuwe patroon…
Dankie vir die stukkie. Ek was so vreeslik klein en weet eintlik van niks. Hierdie is n ware “eye opener”. En so mooi geskryf…
LikeLike
Onthou dit soos gister….. 18 jaar later het die wond opgehou bloei… Maar die littekens is steeds daar. Soveel het intussen verander… En dieselfde gebly. Mag jy steeds getroos word deur kosbare herinneringe, geloof, hoop en liefde💕
LikeLike
Die skoolhoof het in ons klas in ge’buzz’ en gevra Juff is Kind so en so daar? Ja het sy geantwoord. Hyt gese die kind moet kantoor toe kom met haar tassie. Toe ek in die gang staan toe sien ek die myn bestuurder praat met die hoof. Ekt gestop. Ekt geweet een van my ouers is dood. Die hoof het gese ek moet kom sit, ek het nie, tas in die hand het ek tannie Joey gevra; wie is dood my ma of my pa….
LikeLike