Gebroke Hart: Hoe om weer te Hoop

Ek is nou 24 lange maande lank sonder my geliefde, die een met wie ek kon baklei en die een wat my liefgehad het, net soos ek is. Sommer net so onverwags het hy doodgegaan. Net so onverwags het ‘n deel van my ook doodgegaan. Want hoe loop mens een oomblik nog langs mekaar, maak saam planne, lag saam, wonder saam oor die lewe, ons kinders en ons toekoms om net eensklaps die lewe alleen aan te durf?

Alles in my lewe het verander. Ek staan soggens alleen op. Ek maak vir myself koffie. Ek is die enigste een in die badkamer. Sy kant van die bed bly onaangeraak. Die eiers in die yskas word oud. Ek koop net ‘n klein blokkie kaas wat oud word. Hy was gek oor kaas. Hy het altyd ‘n groot blok gekoop en dit in week-pakkies verdeel. Nou is my maandpakkie so groot soos sy weekpakkie. Daar is geen ontbytreuke vanuit die kombuis nie. Ek ruim alleen die kombuis op. Ek maak alleen kos. En moet dit dan eet. Alleen. En in stilte…die groot geraasmaker!

Ek gryp dikwels rond in my herinneringe na die seer, maar vind dan met verwondering dat daar meer mooi in my lewe is as wat daar seer is. Want ek weet dat, so seker as wat die seisoene sal draai, en die veldblomme sal blom, ek ook in die hand van my Koning is.

Ek streef daarna om elke dag ten volle te leef (al kry ek dit nie altyd reg nie). Ek droom van ‘n knus nuwe blyplekkie (die huis is nou te groot) en ek sing Psalms van vreugde vir die byna 48 jaar wat ons saam was. En dan verander die stilte in lofsange en kry ek moed vir die toekoms. Alleen. En in stilte…vredevolle stilte.

Ek groet met ‘n aanhaling van Barbara Johnson:

“Pyn is onvermydelik, maar ongelukkigheid is opsioneel.

Mag jy wat hier lees en ook seer het, weer jou lag vind.

As jou broer doodgaan

Bereavement unravels like a piece of cloth- the fabric of your life. Over time you will be able to reweave your piece of cloth, but the cloth will have a new pattern.Unknown

Dit was ‘n grou Wintersdag vol uitdagings. Daardie dag van 18 Junie 1992. Die dag toe my ouboet dood is. Die dag toe ek die oudste kind geword het. Die dag toe die drie sussies nie meer ‘n boetie en my ouers nie meer ‘n seun gehad het nie. Die dag toe sy vrou nie meer ‘n man gehad het nie. Maar die seerste van alles, toe sy kinders nie meer ‘n pa gehad het nie. Dit was die ergste dag in my lewe.

Ek onthou my pa se pyn en my ma se verslaentheid. Ek onthou ‘n sesjarige seuntjie wat sy handjies om sy ma en sy tannie se bene slaan om hulle te probeer troos. Ek onthou twee tieners wat eerder hulle portuurgroep se geselskap opgesoek het in ‘n poging om van die grootmense af weg te kom en ‘n mate van “normaliteit” in hulle lewens te kry. Ek onthou ook hoe die begrafnisondernemer ons met deernis hanteer het en ‘n klein seuntjie voorberei het op die kis met sy pappa se liggaam daarin. En ek onthou hoe my swaer vir my by die graf gevra het: “Jy kyk so na almal. Wie kyk na jou?”

Maar ek onthou ook hoe goed die gemeenskap vir ons was. Borde eetgoed (al voel mens nie om te eet nie) het die tafels volgestaan. Blomme, boodskappe en telefoonoproepe het ingestroom. Mense, bekend en onbekend, het ons ondersteun, tot lank na die begrafnis. Gebede was veral hoog bo aan die trooslys. En ons was getroos, al het dit ons lank geneem om my ouboet se dood in ons lewe te integreer. Ons was dankbaar vir emosies wat ons uiteindelik gehelp het in die verwerkingsproses, al was dit met tye erg pynlik. Ons het aangepas by ‘n lewe sonder ons boetie. Ons het met veerkragtigheid die veranderde omstandighede bemeester en terselfdertyd nuwe rolle, identiteite en verhoudings gevorm.

Ons het uiteindelik die stukkies van ons lap weer aanmekaar geweef, al was dit volgens ‘n nuwe patroon…

 

Die Anderkant van Rou

Een van die ergste dinge wat met mens kan gebeur, is dat iemand vir wie jy baie omgee dood gaan. So dikwels wanneer ek met mense te doen kry wat die dood van iemand na aan hulle beleef het, word ek geraak deur hoe ons deur so ‘n pynlike gebeurtenis kom sonder om vir ewig geknou te wees.

Om te rou is ‘n pynlike proses. Dit veroorsaak dat ons nie kan slaap of eet nie. Dit maak ons fisies so moeg dat ons nie weet hoe ons een voet voor die ander gaan sit nie. Dit laat ons voel of ons maar net die duvet oor ons koppe kan trek en vir ewig in ‘n hoekie kan sit. Dit laat ons wonder oor die sin van die lewe. Dit meng in met ons werksproduksie. Dit laat ons huil sonder ophou, soms na buite en dikwels net na binne.

En tog, ten spyte van al hierdie pyn, is die meeste van ons so aanmekaargesit dat ons effektief met hierdie pyn kan deel. Dat ons leer uit wat met ons gebeur het en dat ons dit wat ons geleer het met mekaar kan deel. Alhoewel die pyn van rou skrikwekkend is, toon die meeste van ons ‘n veerkragtigheid in ons hantering daarvan. ‘n Klein persentasie mense toon egter ‘n chroniese roureaksie wat beteken dat hulle dit onmoontlik vind om selfs na ‘n lang tydperk terug te keer na hulle daaglike roetine. Daar is ook ‘n ander groep. Die wat ‘n meer geleidelike proses van herstel beleef. Hierdie mense se pyn is aanvanklik baie erg, maar hulle bring geleidelik weer die stukkies van hulle  lewe weer bymekaar.

Ek hoop dat ons met hierdie blog by mekaar sal kan leer.

post