Ek sien haar staan voordat ek besef dat dit sy is. Ek stop voor die popmooi huisie in die kompleks. Dis eers toe die waaiende verwelkomende arms my aandag na haar toe trek dat ek besef: dit is sy! Dis sowaar sy! Dieselfde breë glimlag. Dieselfde groot oë. Of is die oë vandag groter? Sy is dan so maer. So verskriklk maer.

Ek parkeer my motor waar sy vir my beduie en sluit dit af. Half onwillig om uit te klim. Hierdie gaan ‘n moeilike kuier wees. Ek vat-vat na die biltong geskenkie wat ek vir haar saamgebring het. Sal sy dit nog kan eet? Maak ook nie saak nie. Ek is hier en vandag is spesiaal.

Dit het alles vier dae gelede begin met ‘n laat-middag oproep van haar af. Sy is nie die op-jou-nek-lȇ soort van vriendin nie. Ons het dus net sporadies kontak. Maar van die soort wat mens net optel waar jy laas laat los het. Ek was dus aangenaam verras om te sien van wie die oproep is.

Ek het vrolik geantwoord: “Hallo! Lekker om van jou te hoor!” Sy: “Dis nie maklik nie. Ek is aan die einde van my lewe”. Hortend, snikkend en angstig.

Ek het my wit geskrik. “Wat bedoel jy?” “Ek het ‘n groot pleurale aneurisme. Ek kan enige dag sterf! Ek is so bang! Wat moet ek doen om by Sungardens Hospice gestrooi te word? Dis die werkspplek waar ek die gelukkigste in my lewe was”.

My asem was weggeslaan.

Ons twee kom ‘n lang pad saam as kollegas in palliatiewe sorg – in die volksmond bekend as “einde van lewe” of “terminale sorg”. Sy as verpleegster, ek as Maatskaplike werker. “Scaly social workers en dodgy nurses”, het sy ons altyd genoem, met ‘n glinstering  in die oog.

Na haar oproep het ek geweet ek moet haar besoek. Nee, ek het geweet ek wou haar besoek. En dis waar ek nou is. By haar in haar popmooi komplekshuisie.

Ons groet mekaar met susterlike liefde en hartlikheid…my dierbare vriendin wat al baie uitdagings oorleef het en nou gekonfronteer is met die moeilikste van almal – die wete dat sy enige oomblik kan sterf. Hierdie is baie meer werklik as om net te dink dat ons enige oomblik kan sterf. Die diagnose laat haar WEET dat dit enige oomblik kan gebeur.

Ek komplimenteer haar oor haar mooi tuin en sy nooi my in waar die reuk van pannekoek in die lug hang, “Ag askies my ding, ek het vir jou vierkantige pannekoeke gebak. Ek het nie ‘n ronde pan nie”. Dierbare, liewe mens wat nog midde in haar skok dit vir my wil lekker maak om by haar te kuier.  

Ek sit die biltong geskenkie neer waar sy dit hopelik later sal kry en lag saam met haar oor die vierkantige pannekoeke.

Net daar sit sy haar hande op my skouers, kyk my waterpas in die oë, so waterpas dat ek nie kan wegkyk nie. “Sal jy aseblief my plek inneem as ek oor drie weke nie my kind se troue kan bywoon nie? Jy moet haar asseblief dan ook in die kerk inbring. Sy het Nnemand anders nie en wil dit ook graag so hȇ”.

Ek knik instemmend.

En daar huil ons saam… lang trane oor die onvoorspelbaarheid van die lewe, oor genade om mekaar te ken, oor blydskap dat haar liewe dogter ‘n mooi lewensmaat gekry het en oor dankbaarheid vir alles wat mooi is.

Ons lag lekker en lank toe sy my die pakkie met haar vals wimpers wys en al wat ons deur die pakkie sien, is …NIKS. Gelukkig het sy dit net die vorige keer onderstebo gebȇre. Maar ek laat haar mooi verstaan dat sy nie vals wimpers van my moet verwag as ek vir haar moet instaan by die troue nie.

Sy word weer ernstig en vertel my van haar gesprek met die predikant oor haar begrafnis. “Dit moet ‘n feesboodskap wees in die kapél en die as moet ook in die tuin van die hospice gestrooi word.”

Ons tref die reëlings met die hospice en sy betaal sommer vooruit vir die huur van die kapél en die verversings.

Vrede daal oor ons in die wete dat hierdie dalk ons laaste kuier is, maar ook met die hoop dat ons mekaar weer sal sien.

Ek skakel my motor aan en ry met knippende trane-oë daar weg terwyl sy vir my waai.

Tot wederom, my liewe vriendin.


Discover more from QualilifeCare -Centre for loss, grief and bereavement

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Leave a comment