Tot wederom…

Ek sien haar staan voordat ek besef dat dit sy is. Ek stop voor die popmooi huisie in die kompleks. Dis eers toe die waaiende verwelkomende arms my aandag na haar toe trek dat ek besef: dit is sy! Dis sowaar sy! Dieselfde breë glimlag. Dieselfde groot oë. Of is die oë vandag groter? Sy is dan so maer. So verskriklk maer.

Ek parkeer my motor waar sy vir my beduie en sluit dit af. Half onwillig om uit te klim. Hierdie gaan ‘n moeilike kuier wees. Ek vat-vat na die biltong geskenkie wat ek vir haar saamgebring het. Sal sy dit nog kan eet? Maak ook nie saak nie. Ek is hier en vandag is spesiaal.

Dit het alles vier dae gelede begin met ‘n laat-middag oproep van haar af. Sy is nie die op-jou-nek-lȇ soort van vriendin nie. Ons het dus net sporadies kontak. Maar van die soort wat mens net optel waar jy laas laat los het. Ek was dus aangenaam verras om te sien van wie die oproep is.

Ek het vrolik geantwoord: “Hallo! Lekker om van jou te hoor!” Sy: “Dis nie maklik nie. Ek is aan die einde van my lewe”. Hortend, snikkend en angstig.

Ek het my wit geskrik. “Wat bedoel jy?” “Ek het ‘n groot pleurale aneurisme. Ek kan enige dag sterf! Ek is so bang! Wat moet ek doen om by Sungardens Hospice gestrooi te word? Dis die werkspplek waar ek die gelukkigste in my lewe was”.

My asem was weggeslaan.

Ons twee kom ‘n lang pad saam as kollegas in palliatiewe sorg – in die volksmond bekend as “einde van lewe” of “terminale sorg”. Sy as verpleegster, ek as Maatskaplike werker. “Scaly social workers en dodgy nurses”, het sy ons altyd genoem, met ‘n glinstering  in die oog.

Na haar oproep het ek geweet ek moet haar besoek. Nee, ek het geweet ek wou haar besoek. En dis waar ek nou is. By haar in haar popmooi komplekshuisie.

Ons groet mekaar met susterlike liefde en hartlikheid…my dierbare vriendin wat al baie uitdagings oorleef het en nou gekonfronteer is met die moeilikste van almal – die wete dat sy enige oomblik kan sterf. Hierdie is baie meer werklik as om net te dink dat ons enige oomblik kan sterf. Die diagnose laat haar WEET dat dit enige oomblik kan gebeur.

Ek komplimenteer haar oor haar mooi tuin en sy nooi my in waar die reuk van pannekoek in die lug hang, “Ag askies my ding, ek het vir jou vierkantige pannekoeke gebak. Ek het nie ‘n ronde pan nie”. Dierbare, liewe mens wat nog midde in haar skok dit vir my wil lekker maak om by haar te kuier.  

Ek sit die biltong geskenkie neer waar sy dit hopelik later sal kry en lag saam met haar oor die vierkantige pannekoeke.

Net daar sit sy haar hande op my skouers, kyk my waterpas in die oë, so waterpas dat ek nie kan wegkyk nie. “Sal jy aseblief my plek inneem as ek oor drie weke nie my kind se troue kan bywoon nie? Jy moet haar asseblief dan ook in die kerk inbring. Sy het Nnemand anders nie en wil dit ook graag so hȇ”.

Ek knik instemmend.

En daar huil ons saam… lang trane oor die onvoorspelbaarheid van die lewe, oor genade om mekaar te ken, oor blydskap dat haar liewe dogter ‘n mooi lewensmaat gekry het en oor dankbaarheid vir alles wat mooi is.

Ons lag lekker en lank toe sy my die pakkie met haar vals wimpers wys en al wat ons deur die pakkie sien, is …NIKS. Gelukkig het sy dit net die vorige keer onderstebo gebȇre. Maar ek laat haar mooi verstaan dat sy nie vals wimpers van my moet verwag as ek vir haar moet instaan by die troue nie.

Sy word weer ernstig en vertel my van haar gesprek met die predikant oor haar begrafnis. “Dit moet ‘n feesboodskap wees in die kapél en die as moet ook in die tuin van die hospice gestrooi word.”

Ons tref die reëlings met die hospice en sy betaal sommer vooruit vir die huur van die kapél en die verversings.

Vrede daal oor ons in die wete dat hierdie dalk ons laaste kuier is, maar ook met die hoop dat ons mekaar weer sal sien.

Ek skakel my motor aan en ry met knippende trane-oë daar weg terwyl sy vir my waai.

Tot wederom, my liewe vriendin.

Angs en Vrede loop langs mekaar

Op 23 Oktober 2021 het ek die geleentheid gehad om weerbaarheid, veerkragtigheid, omgee en liefde eerstehands te ervaar. Dit was tydens ‘n ontlontingsessie aan ‘n groep jong Voortrekkerkinders en ‘n klompie volwassenes wat ooggetuie was van ‘n grusame noodlottige aanval op ‘n jong vrou.

Ek het baie verhale van braafheid, vrede, geloof en onderlinge ondersteuning gehoor. En min verhale van paniek en angs, soos mens eerder sou verwag.

Ek het gehoor van kindertjies so jonk as 6 jaar wat, sonder om te skroom, bevele gehoorsaam het om plat te val en stil te lê, van dogtertjies wat op bevel van ‘n tannie na veiligheid gekruip het. Van ‘n dapper seun wat kopgehou en die polisie gebel het en ‘n ander jong man wat saam met een vn die volwassenes gaan kyk het of hulle die slagoffer  kon help.

Ek het gehoor hoe die grootmense elke kind wou beskerm, ten koste van hulle eie veiligheid. En hoe kinders mekaar getroos en ondersteun het. Ek het gehoor hoe grootmense mekaar erkenning gee vir elkeen se aandeel in die beveiliging van ons land se toekomstige leiers. Ek het, belangrikste van alles, gehoor hoe mense God se bewarende hand beleef het.

Ja, daar was trane oor wat gebeur het en kommer oor die pad vorentoe. Daar is verseker vrees maar daar is beslis nie wanhoop en ongeloof nie!

Aan die einde van die sessies was ek met dankbaarheid gevul vir ondersteuning deur hierdie selfde groep mense toe my kollega my geskok kom meedeel het dat my motor gesteel is. Ek was omring met omgee-mense en aanbiedings van hulp te midde van hul eie pyn en kommer.

Ek salueer elkeen van julle! My bede is dat ons weer eendag in vrede sonder grusaamhede en disrespek vir mekaar in hierdie mooi land van ons sal woon.

Gebroke Hart: Hoe om weer te Hoop

Ek is nou 24 lange maande lank sonder my geliefde, die een met wie ek kon baklei en die een wat my liefgehad het, net soos ek is. Sommer net so onverwags het hy doodgegaan. Net so onverwags het ‘n deel van my ook doodgegaan. Want hoe loop mens een oomblik nog langs mekaar, maak saam planne, lag saam, wonder saam oor die lewe, ons kinders en ons toekoms om net eensklaps die lewe alleen aan te durf?

Alles in my lewe het verander. Ek staan soggens alleen op. Ek maak vir myself koffie. Ek is die enigste een in die badkamer. Sy kant van die bed bly onaangeraak. Die eiers in die yskas word oud. Ek koop net ‘n klein blokkie kaas wat oud word. Hy was gek oor kaas. Hy het altyd ‘n groot blok gekoop en dit in week-pakkies verdeel. Nou is my maandpakkie so groot soos sy weekpakkie. Daar is geen ontbytreuke vanuit die kombuis nie. Ek ruim alleen die kombuis op. Ek maak alleen kos. En moet dit dan eet. Alleen. En in stilte…die groot geraasmaker!

Ek gryp dikwels rond in my herinneringe na die seer, maar vind dan met verwondering dat daar meer mooi in my lewe is as wat daar seer is. Want ek weet dat, so seker as wat die seisoene sal draai, en die veldblomme sal blom, ek ook in die hand van my Koning is.

Ek streef daarna om elke dag ten volle te leef (al kry ek dit nie altyd reg nie). Ek droom van ‘n knus nuwe blyplekkie (die huis is nou te groot) en ek sing Psalms van vreugde vir die byna 48 jaar wat ons saam was. En dan verander die stilte in lofsange en kry ek moed vir die toekoms. Alleen. En in stilte…vredevolle stilte.

Ek groet met ‘n aanhaling van Barbara Johnson:

“Pyn is onvermydelik, maar ongelukkigheid is opsioneel.

Mag jy wat hier lees en ook seer het, weer jou lag vind.

My conversation stopping career choice

My wish is that this blog post will find its way across the globe

julia245's avatarUmduduzi Blog

‘So, what do you do?’. Here we go, I think. I proceed to explain that I am a palliative care doctor. I work mostly with children, but some adults facing serious illness, supporting their physical, emotional and spiritual needs and often end of life care.

This is the moment the conversation gets really awkward.

Cocking their head to the side they say, ‘I don’t know how you do what you do. You must be so special. An angel.

Well, ‘thank you’ I say. When in truth I am thinking. Nope, no angel here. Just someone willing to talk about topics others find uncomfortable or difficult. I am prepared to have those conversations that the vast majority hope they will never have to.

And yet when it comes down to serious and possibly life ending illness, wouldn’t it be comforting to have someone empathetically tell the truth? Someone…

View original post 421 more words

COVID-19 DAG-VIR-DAG

Moeilike tye!

Dag-vir-dag en treetjie-vir treetjie. Dis hoe ons dit doen! Maar soms, net soms, raak dit bietjie te veel. En soms, net soms, dink ons dit gaan nooit weer einde kry nie. Maar dan kyk ons terug op ons lewens en onthou ander moeilike tye. Tye van chaos en onsekerheid. Tye van bekommernis en moedeloosheid. En dan weet ons, ons KAN, ons WIL en ons SAL hierdeur kom.

Wat beteken dag-vir-dag?

Goeie vraag, veral as ons so graag vooruit wil beplan. Hoe doen mens die dag-vir-dag-ding? Ek weet ook nie, maar ek dink jy DOEN dit net! As die groot kommer waaroor ek nie beheer het nie in my hart kom nesmaak, jaag ek hom weg deur vinnig aandag te gee aan iets waaroor ek wel beheer het.

Hoe doen ek dit?

  • Ek bid.
  • Ek stof af.
  • Ek was skottelgoed.
  • Ek werk in die tuin.
  • Ek lag.
  • Ek is dankbaar.
  • Ek bel my kinders.
  • Ek maak vir my man tee.
  • Ek bemoedig iemand anders met ‘n boodskap.
  • Ensovoorts, ensovoorts.

En so kom ek deur die dag – tree vir tree. Een ding op ‘n keer. Voetjie vir voetjie. Stadig maar seker…met God se genade. Wat ‘n groot troos!

Daar is hoop

Ja, daar is hoop en daar is ‘n toekoms. En ons hoef nie te weet hoe lyk die toekoms nie. Gee maar net een klein treetjie op ‘n slag.

Probeer dit. Dit werk!

COVID-19 – Day 5

A strange day

Day 5 of the COVID-19 lock down was an ordinary Tuesday, except that I did not go to work, or to the stores, nor visited friends. I enjoyed the solitude and the stillness around me when I awoke and was certain that this day would be filled with the rest that we all need. Rest from being so busy with non-essential tasks that revolve mostly around ourselves.

Then the message came from my sister to say that her second grandchild was born, but that the doctor was worried about his lungs. We started praying, as we always do when we are in trouble. Heartbroken that it is always trouble and challenges that bring us back to faith and on our knees.

The next message was of even more serious nature. My son-in-law’s dad suffered a massive heart attack while he was completing admission forms in the hospital after being told by his doctor to rush to the hospital. His wife was with him and I just can’t give enough thanks that this happened inside the hospital. He was wheeled to theater almost immediately where they worked on him for the best part of 5 hours. And his wife (over 70 and not well herself) was waiting all the time in a lonely waiting room. Lonely, because there is a lock down and her children are not allowed to drive and visit.

For me, this was an eye opener. We, as a family, were now in the same position where many people will be once they contract COVID-19, and should they be admitted. Being ill and isolated certainly sounds like too much to adapt to. And what if death sets in and you have to die alone without having the chance to say goodbye? Everyone is talking about living wills, but there is more to advanced health care than just a living will. There is the important, but difficult, conversations that must take place between family members. This should include last wishes, yes. But it should also include the following 4 things as Ira Byock pointed out in his book on The four things that matter most:

  • Please forgive me
  • I forgive you
  • Thank you
  • I love you

I urge you to use your time with your significant others wisely and to open the discussion about the four things that matter most.

Ek ontmoet ‘n Ou Vroutjie

My werk neem my soms op interessante paaie. Gister was so ‘n dag.

Ek laai ‘n vreemdeling, met goeie verwysings vanaf my kollega, op. Hy vat my op die kronkelpad oor die heuwels van Endlovini. Ons is op pad na ‘n gemeenskapsorganisasie wat hulp en sorg verskaf aan persone met ‘n lewensbedreigende siekte.

Terwyl ek ry, verkyk ek my aan die vreemde mooi van kleihuisies op heuwels. Ek kry die gevoel van vreedsaamheid. Ek sien laggende mense en ek kry vriendelike wuiwe van meeste voetgangers by wie ons verbyry. Ons vat ‘n stywe verspoelde grondpaadjie en my nou bekende metgesel maak die hek oop. Die hek is nie daar om skelms uit te hou nie, maar wel die beeste. Skreiend in kontras met die ontwikkelde en misdaadryke gebied waar ek bly.

Hier is ooglopend min hulpbronne, maar die hartlike manier waarop ek ontvang word is in skrille kontras met die armoede van die omgewing. Dit laat my wonder wat armoede werklik is. Wie is die arm mens hier? Dalk ek?

Skitterskoon vloere begroet my. Iewers vanuit die gebou kerm ‘n pasiënt en my voete loop vanself daarheen. Daar is min plek in die klein kamertjie. Die bed staan reg onder die gordynlose venster. Daar is lekker warm komberse op die bed. Dis ‘n ou vroutjie wat eintlik met haarself lê en gesels. Baie hard. Dalk is sy doof. Haar oë is al dof. Ek vat haar hand en sy draai na my toe. ‘n Glimlag wat my skaam maak, begroet my. Sy is bly om my te sien! Sy vryf my hand en praat met my in Zoeloe. Dis n goeie praat, al verstaan ek min. En toe praat sy Engels en vra MY  hoe dit gaan. So lei sy die gesprek weg van haar en fokus op my, die arm ene?! Toe ek groet wil sy my eers nie laat loop nie. Maar sy stuur my uit met ‘n seëngroet wat my vir lank bybly.

Toe begin ons werk in Endlovini.