Ek is nou 24 lange maande lank sonder my geliefde, die een met wie ek kon baklei en die een wat my liefgehad het, net soos ek is. Sommer net so onverwags het hy doodgegaan. Net so onverwags het ‘n deel van my ook doodgegaan. Want hoe loop mens een oomblik nog langs mekaar, maak saam planne, lag saam, wonder saam oor die lewe, ons kinders en ons toekoms om net eensklaps die lewe alleen aan te durf?
Alles in my lewe het verander. Ek staan soggens alleen op. Ek maak vir myself koffie. Ek is die enigste een in die badkamer. Sy kant van die bed bly onaangeraak. Die eiers in die yskas word oud. Ek koop net ‘n klein blokkie kaas wat oud word. Hy was gek oor kaas. Hy het altyd ‘n groot blok gekoop en dit in week-pakkies verdeel. Nou is my maandpakkie so groot soos sy weekpakkie. Daar is geen ontbytreuke vanuit die kombuis nie. Ek ruim alleen die kombuis op. Ek maak alleen kos. En moet dit dan eet. Alleen. En in stilte…die groot geraasmaker!
Ek gryp dikwels rond in my herinneringe na die seer, maar vind dan met verwondering dat daar meer mooi in my lewe is as wat daar seer is. Want ek weet dat, so seker as wat die seisoene sal draai, en die veldblomme sal blom, ek ook in die hand van my Koning is.
Ek streef daarna om elke dag ten volle te leef (al kry ek dit nie altyd reg nie). Ek droom van ‘n knus nuwe blyplekkie (die huis is nou te groot) en ek sing Psalms van vreugde vir die byna 48 jaar wat ons saam was. En dan verander die stilte in lofsange en kry ek moed vir die toekoms. Alleen. En in stilte…vredevolle stilte.
Ek groet met ‘n aanhaling van Barbara Johnson:
“Pyn is onvermydelik, maar ongelukkigheid is opsioneel.
Mag jy wat hier lees en ook seer het, weer jou lag vind.



